Partly cloudy
  • Partly cloudy
  • Temperature: 13 °C

CURRENT PR & MARKETING CAMPAIGN

e’Bosch bied ’n landskapkunsfees in Stellenbosch op 30 September

Share

21 August 2017 [group_audience]
Dorpstraat se ‘Rooi Bome’ is ‘n voorbeeld van ‘n landskuns-projek wat geskep kan word.

e’Bosch bied ’n landskapkunsfees in Stellenbosch op 30 September 2017

Volgens ‘n mediaverklaring van Elsabé Retief word ‘n Landkunsfees beplan vir Erfenismaand op 30 September as deel van die e’Bosch-erfenisvieringe. Landkunstenaars soos Hannetjie Coetzee en Wes-Kaapse landkunstenaars sal genooi word om by Koloniesland in  Jannaschstraat langs die oewers van Eersterivier kunswerke vanuit die natuurlike omgewing te skep.

Die landkunsfees in Koloniesland op 30 September sal benewens aan  landkunstenaars die geleentheid bied om iets te skep uit die onmiddellike rivieromgewing, ook ander kunstenaars die kans gun om hul kuns- en handwerk langs die Eersterivier uit te stal.

Vir die gesin gaan die Stellenbosch Trail Fund ook ‘n pretfietsrit  langs die rivier aanbied wat die historiese Mostertsdrift sal insluit. Te danke aan die bekende inwoner, Strijdom van der Merwe, internasionaal bekende landkunstenaar, is hierdie kunsvorm nie vreemd aan Stellenbosch nie. Dié besonder skeppende kunstenaar laat nie ‘n geleentheid verbygaan nie om iets uit die natuur in kuns te omskep, of dit nou blomme is wat onder die bome in ‘n labarintvorm bymekaar gevee word, of “blomme” in die bos of rivier neersit.

Rooi Bome

Dit was egter sy rooi bome wat landkuns op ‘n dramatiese wyse aan sy omgewing bekendgestel het. Een oggend in die grou winter van 2008 was Dorpstraat se swart boomstamme eensklaps omhul in rooi lap, ‘n wonderlike kontras teen die swart stamme en die wit Kaapse argitektuur.

“Landkuns is kuns wat met natuurlike materiaal uit die omgewing geskep word,” vertel Van der Merwe. “Die konsep word ontwikkel en gelei deur die omgewing. Die kunswerk komplementeer die omgewing en die plek. Dit is nie permanent van aard nie, tensy daar ‘n behoefte is om dit te bewaar. Andersins word dit fotografies gedokumenteer.”

Hy vertel voorts dat die natuur siklusse het en landkuns ‘n geleentheid  bied om dit uit te beeld.

“Terselfdertyd kan jy ook iets nuuts aan die omgewing bekend stel – soos die rooi lap om die bome, of blou ballonne in die rivier tydens Woordfees, wat dan ‘n tema of voorwerpe binne ‘n spesifieke omgewing beklemtoon. Die blou ballonne is iets van buite, maar kinders het boodskappe daarop geskryf en dit self in die rivier geplaas.”

Die rooi bome het wyd en syd aandag getrek, soveel so, dat die dorp daardie winterskoolvakansie tot R5 miljoen deur middel van toerisme geïn het. Elke besoeker en inwoner het een of meer rooilapbome afgeneem en foto’s daarvan hang teen mure dwars oor die land, selfs oorsee. Dié idee is ook voortgesit met die pienk bome ten bate van Borskankerbewustheid in talle dorpe en stede in Suid-Afrika.

Mense het dus op die wyse bewus geword van die natuur deur landkuns, vertel Van der Merwe verder. “Dorpstraat het ‘n fokuspunt word met die rooi lap wat kontrasteer teen die swart stamme en die wit geboue.”

Hy lag wanneer hy vertel dat hy daardie tyd feitlik elke oggend douvoordag moes opstaan om van die bome se lappe wat geskeur of gesteel is, te vervang, veral in die omgewing van Die Akker!

Hy beskou landkuns as ‘n teenreaksie teen die massaproduksie van kuns in die sestigerjare wat ook tot galerye beperk was. Veral in die VSA het die vryheid van kunstenaars buite die galery gedy en oorgespoel na Europa.

Vir hom hoort byvoorbeeld Rodin se beeldhouwerke tuis in die tuin waar hulle uitgestal is. “‘n Kunswerk moet werk met die omgewing. Die gevoel van ek is die grond, dat die mens só deel is van natuur en kunstenaars wat ook uiteindelik deel van die natuur geword het.”  Van der Merwe se beeld van Mandela voor die stadsaal is ook ontwerp om by sy onmiddellike omgewing saam te smelt – die roesbruin omlyning boots die bruin houtwerk en hortjies van die stadshuis na.

Vir meer inligting oor die e’Bosch-landkunsdag op 30 September vanjaar, kontak Lydia van Rooyen by LydiavR@wildlands.co.za of Anthony Penderis by anthony.penderis@gmail.com.

 

 

      

Stellenbosch 360

Friends of Stellenbosch

Contact

E: info@stellenbosch360.co.za
T: +27 (0)21 883 3584
F: +27 (0)21 882 9550

Information Office:
36 Market Steet
Stellenbosch, 7600