Clear sky
  • Clear sky
  • Temperature: 16 °C

CURRENT PR & MARKETING CAMPAIGN

Toerisme na Stellenbosch groei sterk!

Share

20 July 2017 [group_audience]
Toerisme na Stellenbosch groei sterk!

Toerismegroei na Stellenbosch bly sterk

Die sterk groei in toerisme na Stellenbosch en omgewing wat kenmerkend geword het van die streek die afgelope vyf jaar, het verdere momentum gedurende die huidige toerismeseisoen gekry. Volgens meeste gesprekke wat Eikestadnuus met verskeie woordvoerders in hierdie bedryf gevoer het, is groeisyfers van tussen 12% tot 15% en selfs hoër vergeleke met die rekordsyfers van 2015 behaal.

Volgens Annemarie Ferns, Uitvoerende Hoofbestuurder van Stellenbosch 360, kom die groei in besoekers aan die Stellenbosch 360-besoekerssentrum gedurende die laaste drie maande  van 2016 op 12,5% - vergeleke met dieselfde periode in 2015 - te staan.

Toeriste van nuwe markte

Sy benadruk: “Hoewel  die meeste  internasionale besoekers tradisioneel oorwegend vanaf Europa afkomstig is,  het die VSA, Kanada, Australië, Maleisië, China en Brazil nou sterk tot die mark toegetree. Ek is daarvan oortuig dat die toename die gevolg is van Stellenbosch 360 se handelsbesoeke aan China, die VSA en Kanada waar hernude belangstelling vanuit die geledere van  die toeroperateurs opgevlam het.  Daarmee gaan gepaard die uitstekende samewerking tussen Stellenbosch 360 en SA Toerisme, beide vanaf hul hoofkantoor en hul buitelandse verteenwoordigers.”

Die hoofbestuurder van Spier Wynlandgoed en Hotel, Joep Schoof, bevestig dié groeitendens. “Ons het definitief ‘n baie beter seisoen by Spier beleef, met groeisyfers van onderskeidelik 22% in November en 16% in Desember. Ons steun van buitelandse besoekers uit die VK, Duitsland, Nederland en Frankryk is steeds uitstekend. Wat ook verblydend is, is dat ons ook heelwat meer besoek uit die plaaslike mark – en veral uit Gauteng, KZN en ook Kaapstad self – ontvang het, met ons fokus op families wat baie suksesvol is.”

Goeie nuus is ook dat die Stellenbosch Dorpsmuseum, die Speelgoed- en Miniatuurmuseum en die VOC Kruithuis in totaal 3764 besoekers gedurende Desember gelok het, wat ten spyte van heelwat vakansiedae sowat 25% hoër is as die vorige jaar. “Buitelanders het 60% van hierdie getal uitgemaak met die grootste getalle vanaf Duitsland, Frankryk, die VK, die VSA, Switzerland, Italië en selfs toeriste uit China en Indië,” aldus Lorenzo Hendricks, toesighouer by die Speelgoedmuseum.

Colin Bridges, senior bestuurder by die Bergkelder, verklaar dat hulle ‘n “baie goeie seisoen, aansienlik beter as in 2015” by dié bekende en gewilde wynsentrum ervaar het. Hulle moes daagliks verskeie toere vir binnelandse en buitelandse groepe so veel as 60 aanbied, en die stoomtrein vanuit die Kaap op Sondae sorg ook deurentyd vir baie nuwe besoekers tot einde Februarie. Gerda van Wyngaardt, beprekingsbestuurder by The Stellenbosch Hotel het ook aan Eikestadnuus bevestig dat die laaste drie maande van 2016 goeie maande vir hulle was met veral uitstekende besetting in Oktober en November. Denzel Swarts, proelokaalbestuurder van Simonsig Landgoed, staaf ook dat

hulle benewens die oorsese toeriste, wonderlike steun uit die Noorde, die Vrystaat en die Oos-Kaap gekry het. Verder sê hy: “Ons verkope is beslis beter as die van verlede jaar. Die ‘Vintage Fridays’-etes met musiek wat ons Vrydagaande in die somer aanbied en met ou oesjaarwyne kombineer asook ons ‘First Fizz’-vonkelaande die eerste Donderdagaand van elke maand, is uiters gewild en trek groot getalle besoekers.”

Jo-Anna Looms, bemarkingsbestuurder van Lanzerac Hotel en Spa, het genoem dat desnieteenstaande die omvattende renovering wat tydens 2016 op die bekende landgoed plaasgevind het, het hulle ‘n rekord winterseisoen as gevolg van veral groot steun uit die korporatiewe mark vir hulle konferensiefasiliteite ondervind. Sy het bygevoeg: “Sedert middel Desember het ons internasionale gaste toenemend begin arriveer en ons verwag ‘n uitstekende somerseisoen wat tot na die Paasnaweek kan strek. Tans belewe ons ook groot opwinding en belangstelling in ons nuwe opgegradeerde en hoogs gemoderniseerde Spa wat pas dié week geopen is.”

Stellenbosch 360

Friends of Stellenbosch

Contact

E: info@stellenbosch360.co.za
T: +27 (0)21 883 3584
F: +27 (0)21 882 9550

Information Office:
36 Market Steet
Stellenbosch, 7600